|
"Perlemoen
Rock en Roll, en brandewyn kitare"
Die storie van Akkedis begin vroeg in
die Negentigs, toe die tweelingbroers Arthur en Rudi Dennis saam op
Youngsfield Lugmagbasis hulle militêre diensplig gedoen het.
Alhoewel hulle al van kleintyd af kitaar en dromme speel, het hulle
hier saam begin liedjies uitwerk, kitaarspeel en sing. Dit het gelei
na hulle eerste optrede in ‘n klein plekkie in Melkbosstrand onder
die naam van die Dennis Broers.
Na
hulle uit die weermag uitgeklaar het, het die broers na Stellenbosch
verhuis, waar hulle ‘n gereelde Donderdagaand gig by die Terrace
gespeel het. Dit is waar hulle stadig begin naam maak en later ‘n
getroue groepie volgelinge opgebou het. Alhoewel die grootste gros
van The Twins, soos hulle toe bekend gestaan het, se materiaal
populêre Engelse liedjies was, is die liedjie wat meeste aangevra
was een van hulle eie. "Dronkwees", ‘n ligtelike, dog
bittersoet kyk na die pyn en plesier van jonk en dronk wees, het
menigtemale laatnag saamsingsessies uitgelok.
Die
keerpunt van die Dennis broers se musiekloopbaan was toe Frank
Frost, organiseerder van die ’96 Hangklip Rockfees, hulle gevra
het om op te tree, op voorwaarde dat hulle net oorspronklike
Afrikaanse liedjies sing. Dit was die ontstaan van Akkedis.
Die
groep bestaan nou uit 4 lede, Barry Steenkamp op baskitaar, Swart
Gabriel op saksofoon, Arthur op lead en Rudi op dromme.
Die naam kom van ‘n opmerking dat
hulle "so platsak soos ‘n akkedis op ‘n klip is."
Hulle het die naam gekies omdat hulle graag ekslusief in Afrikaans
wou begin sing en skryf. Akkedis se musiek is ‘n mengsel van rock,
blues en reggae, met sterk melodië en harmonië. Die musiek spreek
van ‘n groot liefde vir Afrikaans en die goeie lewe.
Die groep het baie ondersteuning van
plaaslike musiekante gekry. Pierre "Valiant Swart" Nolte
is ‘n jarelange aanhanger en ook die persoon wat Wildebeest
Records oortuig het om Akkedis se eerste CD, "Husse met Lang
Ore," op te neem. Hy het ook die produksie van die CD
waargeneem en op ‘n paar van die liedjies gespeel. Albert Frost,
hoofkitaarspeler van die Blues Broers, het ook ‘n groot musikale
bydrae gelewer. Koos Kombuis is nog ‘n groot aanhanger.
"Hulle speel ‘n paar van my songs beter as ek," bieg
hierdie vader van Afrikaanse musiek.
Optredes by groot feeste soos
Wingerdstok, Oppiekoppie en Kaktus op die Vlaktes het hulle baie
volgelinge gewerf. Akkedis is veral beïndruk met gehore in die
Noorde. "Hulle is fanaties. Hulle cheer as die ouens iets goed
op hulle instrumente doen en sing ons liedjies saam," vertel
Arthur.

|